PRIVAATSKOOL MORIA

MEER OOR MORIA

Outjo - die plattelandse dorp met die groot hart.

Privaatskool Moria en ander Namibiërs wat die skool leer ken, noem die skool nie verniet: "Die plattelandse skool met die groot hart", nie. Die groothartigheid begin egter reeds by die plattelandse gemeenskap.
Outjo lê in die Noord Weste van die land, lyk van buite klein, lê dalk van die hoofpad af, vertoon soms vaal in die winter en ja, die strate raak op 'n Saterdagmiddag stil, tot Maandagmore, maar Outjo het iets wat jy nie sommer op 'n ander plek kry nie. In Outjo lê die waarde van die dorp en streek veral in die mense se harte en hande. Outjo het 'n hartlike, maar ook sterk en dinamiese gemeenskap wat saamwerk om nie net die dorp en streek nie, maar veral die Privaatskool in die dorp te maak werk.

Min mense sou dalk dertig jaar gelede glo dat Outjo se gemeenskap 'n Privaatskool sou bekostig, maar Privaatskool Moria oorleef nie net nie, die skool floreer. In ekonomiese druk tye kon Privaatskool Moria se direksie 'n plan maak om onderwys en opvoeding in die deel van ons wêreld na nog hoër hoogtes te neem. In 2017 is 'n nuwe pos vir bedryfshoof geskep en ses nuwe onderwysers is aangestel, ekstra dienste om die gemeenskap te bedien is beplan en omkyk is min.

Hoe kry die skool dit reg? Juis omdat dit nie net 'n skool is wat bou aan die skool nie, maar 'n hele gemeenskap. Moria, soos Outjo se Christelike Afrikaanse Privaatskool in die res van die land bekend staan is reeds jare daaraan gewoond om geen staatsubsidie te ontvang nie. Dié feit het nog nooit die gemeenskap laat mor, kla en kommer nie. Die uitdaging het juis die gemeenskap oorgehaal om kop te krap en tot die besef te bring dat die voortbestaan van Outjo se Privaatskool in hulle eie hande lê.

Die ouers, maar ook die res van die gemeenskap het self verantwoordelikheid aanvaar om vir Outjo se kinders kwaliteit onderwys en opvoeding te gee en geld daarvoor bymekaar te maak. Reeds vir ses en twintig jaar word suksesvolle projekte geloods om juis hierdie droom lewendig te hou. Een van die oudste insamelings, wat elke jaar van krag tot krag groei, is die vrugtekoek projek en die storie word met smaak vertel in 'n ander artikel in hierdie bylaag. 'n Voel-goed storie wat juis meer van die hartlikheid en dinamiek van die Moria gemeenskap vertel.

Mense sê gereeld skertsend in Outjo: "Ons stry soms hard, maar ons bid altyd nog harder saam!" Dit is hierdie skat wat die gemeenskap so besonders laat saamstaan, ook wanneer dit by hulle Privaatskool kom. Dankie Outjo - julle is inderdaad die plattelandse dorp met die groot hart!