Akademie


Privaatskool Moria bied Ondersteunende Onderrig aan leerlinge (Gr. 1 – 7) wat skolastiese probleme ervaar, met die fokus spesifiek op Wiskunde, Afrikaans en Engels.

Wees op die uitkyk!!

Hier sal gereeld interessante artikels verskyn wat geskryf word deur Almeréne Badenhorst (gespesialiseerde Kinderkinetika-Praktisyn). Indien u iets wil weet of wil vra, stuur gerus 'n e-pos na remedieringmoria@gmail.com




Hier kom ek GRAAD 1 !!!

Is jou klein aspatat volgende jaar in Graad 1?

Doen die volgende toetsies en oefeninge hieronder en voor jy jou oë kan knip is jou kleuter skoolgereed!

Fynmotoriese bewegings is die bewegings van die klein spiere van die liggaam. Fynmotoriese vaardighede word gevorm deur handoogkoördinasie en oogbewegings. Alle bewegings wat jou kind uitvoer word deur sy oë gelei. As ‘n kind se handoogkoördinasie swak is, sukkel hulle gewoonlik om te teken, in te kleur en uit te knip.


Handoogkoördinasie

Toetse:

Jou kind moet in staat wees om die volgende te doen:

    ·Sy/haar eie skoen vas te maak

    ·Knope los en vas te maak

    ·Aan sy/haar regteroor met sy/haar linkerhand te raak

    ·‘n Skêr te gebruik

    ·Met ‘n verfkwassie te verf

    ·Krale in te ryg

    ·Figure van klei te maak

    ·‘n Gegewe patroon op ‘n pennetjiesbord te pak

    ·‘n Streep tussen lyne te ttek sonder om aan die kante te raak

Oefeninge:

    ·Laat jou kind prober om klein voorwerpies met ‘n wasgoedpennetjie vas te knyp, op te tel en in ‘n houer te gooi

    ·Laat jou kind ‘n stuk koerantpapier met een hand opfrommel om ‘n papierbal te maak. Gee hom/haar dan ‘n mandjie waarin hulle die “bal” moet gooi

    ·Gee jou kind ‘n klomp balle om in ‘n mandjie te gooi. Laat hy/sy tel hoeveel balle hy/sy ingooi

    ·Speletjies soos kegelbal of ringgooi is baie goeie oefening

    ·Skep baie geleenthede vir kunsaktiwiteite soos die teken en inkleur van prente, vingerverf, waterverf, uitknip en plak van patrone. (Indien jou kind links is, is dit baie belangrik om vir hom/haar ‘n skêr vir linkshandiges te gee)


Oogbewegings

‘n Mens se hande en oë werk saam om bewegings uit e voer, daarom moet jou kleinding se oogbewegings reg wees. Dit gebeur soms dat die spiertjies van die oë nie genoeg ontwikkel het om die oogbal na die verlangde posisie te draai nie. As dit die geval is, het jou kind oefening nodig om hierdie spiertjies te ontwikkel.

Toetse:

    ·Maak ‘n bal aan ‘n toutjie vas. Swaai dit heen en weer voor jou kind. Hy/sy moet sy/haar kop kan stil hou terwyl hy/sy die bal volg

    ·Jou kind moet sy/haar kop kan stilhou terwyl die volgende oogbewegings uitgevoer word:

    -Beweeg oë horisontaal van links na regs

    -Beweeg oë vertikaal van bo na onder

    -Beweeg oë diagonaal van bo na regs

    -Beweeg oë diagonaal van bo na links

Oefeninge:

    ·Laat jou kind ‘n speelgoedmotortjie heen en weer op die tafel stoot. Hy/sy kop moet stilgehou word terwyl hy/sy die speelgoedmotortjie met sy/haar oë volg

    ·Lig met ‘n flits;ig teen die muur in verskillende rigtings en laat ju=ou kind die lig met sy/haar eie flitslig volg


Vraelys vir ouers oor Gesondheid en Persoonlikheidseienskappe:

    ·Hoe is u kind se gesondheid?

    ·Is die oë al professioneel getoets?

    ·Vermoed u enige ooggebrek?

    ·Is die gehoor al professioneel getoets?

    ·Vermoed u enige gehoorgebrek?

    ·Is daar enige spraakgebrek?

    ·Is u kind bang om te waag (selfvertroue)?

    ·Word u kind maklik humeurig of opstandig?

    ·Is u kind gewoond om takies half gedaan te laat en moet u hom/haar aanspoor om dit te voltooi?

    ·Hou u kind ‘n redelike tydjie aan met waarmee hy /sy besig is?

    ·Hoe is die konsentrasie?

    ·Is hy/sy woelig en rusteloos van aard?

    ·Was daar enige baie ernstige siektes gedurende die kinderjare en wat was die aard daarvan?

    ·Hoe is die sosiale aanpassing met die gesinslede en maats?

    ·Het u kind ‘n kleuterskool bygewoon?

    Bron: Onbekend

Leerprobleme

Motoriese Ontwikkeling

Leerprobleme

Probleme wat die kind se skolastiese prestasie oor die algemeen beїnvloed

‘n Leerprobleem hoef nie die einde van jou drome te beteken nie, dit hoef nie jou skoolloopbaan in die wiele te ry nie. Daar is baie mense met leergestremdhede wat uitblink in hulle professionele beroep, hetsy dit ‘n skilder, skrywer of akteur is!!!

Die term ‘leerprobleme’ sluit leerders uit wat ‘n primêre probleem het as gevolg van visie, liggaamlike en verstandelike vertragings of emosionele versteurings.

Volgens navorsers word leerprobleme by leerders geїdentifiseer wat n lae vaardigheidsvlak het. Du Toit (1996:5) stel dat leerders wat ondersteuning en bystand nodig het, leerprobleme ervaar. Salend (1990:4) vind dat leerders met perseptuele probleme, minimale breindisfunksies, hiperaktiwiteit, aandagspantekorte, disleksie en spraakprobleme leerprobleme kan hê. Botha (1996:227) stel dat leerders met leerprobleme is dié wat nie die vermoë het om die mas op te kom in die tradisionele klaskamer nie, nie na sy potensiaal presteer nie en het hulp nodig het.

Leerprobleme beїnvloed verskeie ontwikkelingsvaardighede waarvan ‘n leerder afhanklik is om suksesvol te kan leer, naamlik:

    1.Taal en verwante vaardighede

    ~ spraak, begrip, woordeskat en stelwerk

    2.Sensoriese motoriese vaardighede

    ~ liggaamshouding, grootmotoriese vaardighede, oog-hand koördinasie en fyn motoriese beheer

    3.Dominansie, rigting en die links-regs konsep

    ~ ruimtelike oriëntasie, kennis van links en regs, bemeestering van rigting en oriëntasie van letters

    en nommers

    4.Visuele persepsie en visuele geheue

    ~ diskriminasie, opeenvolgende geheue, ruimtelike verhoudings, vormkonstantheid, figuur-

    agtergrond persepsie en afsluiting

    5.Ouditiewe persepsie en ouditiewe geheue

~ luister, diskriminasie, figuur-agtergrond persepsie, opeenvolgende geheue en afsluiting

As afwykings in die bogenoemde vaardighede ondervind word moet ‘n sielkundige of opvoedkundige spesialis so gou moontlik geraadpleeg word. Hoe gouer ‘n leerdeer met leerprobleme geïdentifiseer word, hoe beter is dit vir hul aanpassing en hantering deur hulle skoolloopbaan.

~INTERESSANTE INLIGTING~

    ·Seuns is 3-15 keer meer geneig om leerprobleme te hê

    ·Dogters met leerprobleme is beter in spel, skrif en perseptueel-motoriese vaardighede as seuns

    ·Seuns met leerprobleme vaar beter in wiskunde as dogters met leerprobleme

    ·Die mees algemene tekort is by die ontvangs van taal

Oorsake van Leerprobleme:

    ·Omgewingsfaktore

    ·Geneties oordraagbaar

    ·Vertraagde breinontwikkeling

    ·Geboorte trauma (lae gewig, suurstof tekort, prematuur geboorte,

    siekte of besering, blootstelling aan dwelms of alkohol)

    ·Gebrekkige stimulering

    ·Verhoudings met maats en onderwysers (negatief)

    ·Ouers wat negatief is teenoor die skool

    ·Gereeld afwesig van skool

    ·Lae selfbeeld

    ·Gebrek aan motivering

    ·Mislukkings

Leerprobleme word geklassifiseer as leergeremdheid of leergestremdheid. Met leergeremdheid word verwys na eksterne faktore soos swak huislike omstandighede, armoedige omgewing en ontoereikende aandag. Leergestremdheid verwys weer na die interne faktore soos beperkte verstandelike vermoëns, neurologiese disfunksies en genetiese erfenis.

Leergestremdhede val in breë kategorieë gebaseer op die vier stadiums van die verwerking van inligting wat gebruik word in leer naamlik, insette, integrasie, stoor en uitvoer.

Insette is die inligting wat waargeneem word deur die sintuie, soos visuele en ouditiewe persepsie. Integrasie is die fase waartydens insette geïnterpreteer, verdeel, in 'n ry geplaas word, of wat verband hou met vorige leer. Stoor is wanneer inligting in die geheue gestoor word en deel vorm van die kort- en lang-termyn geheue. Uitvoer verwys na die inligting wat uit die brein kom deur middel van woorde (taal uitset) of deur spieraktiwiteit (skryf, knip en teken).

Wetenskaplikes was onder die indruk dat die struktuur van die menslike brein reeds deur genetika vasgestel is voor geboorte. Onlangse studies deur neuro-wetenskaplikes het vasgestel dat beweging wat die ontwikkeling van neurale bane stimuleer deel vorm van die opmaak van die brein se struktuur. Die plastisiteit van die brein bewys dat dit aanhoudend kan verander/aanpas en dat die struktuur kan verander deur spesifieke vorms van stimulasie, byvoorbeeld beweging. Gedurende fisiese beweging vind uitgebreide aktiwiteit in die brein se serebrale korteks (perseptuele terugvoeringstelsel wat informasie stuur en ontvang vanaf die rugmurg) en motoriese korteks (stuur seine om te sê hoe die liggaam moet beweeg) plaas. Daarom is beweging gedurende vroeë kinderjare belangrik en dit speel ‘n groot rol in die opmaak van die brein se struktuur.

Algemene leerprobleme wat by kinders/volwassenes geklassifiseer word:

    ·Disleksie

    -Behels hoofsaaklik probleme met lees, skryf en spelling

    ·Disalkulie

    -Wiskundige probleme, onder meer probleme om tyd te verstaan en gebruik van geld

    ·Disgrafie

    -Probleme met handskrif, spelling en organisering van idees

    ·Dispraksie

    -Swak hand-oog koördinasie, swak balans en lomp hande

    ·Disfasie

    -Probleme met die verstaan van gesproke en gespreke taal

    ·Ouditiewe prosesseringsafwykings

    -Moeilike onderskeid tussen klanke en begripsprobleme as dit by lees en taal kom

    ·Visuele prosesseringsafwykings

    -Probleme met interpretasie van visuele inligting soos kaarte, simbole, prente asook probleme met wiskunde en lees

Bekende persone met Leerprobleme:

    ·Nelson Rockefeller – vise-president van Amerika

    ·Thomas Edison – uitvinder

    ·Albert Einstein – wiskundige genie

    ·Orlando Bloom – akteur

    ·Anthony Andrews – akteur

    ·Geoff Barrow – Engelse musikant

    ·Lara Flynn Boyle – Amerikaanse aktrise

    ·Neil Bush – George W Bush se seun

    ·Cher – sangeres en aktrise

    ·Tom Cruise – akteur

    ·Leonardo da Vinci – skilder

    ·Whoopi Goldberg – aktrise en komediant

    ·Bruce Jenner – atleet

    ·Steve Jobs – mede-stigter van Apple Inc.

    ·Steve McQueen – kunstenaar

    ·Jamie Oliver – sjef

    ·Ozzy Osbourne – musikant

    ·Victoria – Kroonprinses van Swede

    ·David Boies – prokureur

    ·Muhammad Ali – kampioen bokser

Geskryf deur: Almeréne Badenhorst

Kinderkinetika-Praktisyn


Motoriese Ontwikkeling

Volgens Jean Piaget, ‘n Switserse Ontwikkelings Sielkundige en Filosoof (1896 - 1980), is die eerste sisteem wat embriologies sowel as na geboorte ontwikkel die motoriese sisteem.

Motoriese Ontwikkeling verwys na die ontwikkeling van ‘n kind se bene, spiere (groot- en fynspiere) en die vermoëns om rond te beweeg. Ontwikkeling volg ‘n spesifieke patroon wat die individu progressief in staat stel om komplekse vermoëns te verkry. Dit is belangrik dat ‘n kind se spiertonus goed gebalanseerd is om hulle spiere te ontwikkel en te gebruik sodat hulle met gemak kan staan, sit, rol, loop, hardloop, swem en alle ander posisies en aksies wat hulle moet uitvoer. Motoriese Ontwikkeling behels ook die kind se vestibulêre en proprioseptiewe stelsels, beide hierdie stelsels vorm deel van die kind se sensoriese stelsel. Sommige kinders kan ‘n verlaagde (onderstimulasie) of verhoogde (oorstimulasie) reaksie op sensoriese inligting uitstal.

Vestibulêre Stelsel – dit is geleë in die binne-oor en laat die liggaam balans handhaaf

Proprioseptiewe Stelsel – behels die binne-oor, die spiere, gewrigte en senings; laat die liggaam verstaan waar dit geleë is

Enige ouer kan getuig van die opwinding as hulle baba sy kop kan oplig, kan oor rol van sy rug tot op sy maag, sit, kruip, loop, strek na voorwerpe of voorwerpe manipuleer. Dit is hierdie vaardighede wat deel vorm van die grondslag van ontwikkeling. Wanneer hierdie vaardighede nie bereik word nie of vertraag is kan dit lei tot afwykings.

Ontwikkeling vind plaas van die binneste ledemate na die buitenste ledemate. Dit beteken kinders ontwikkel eers beheer oor hulle arms voor hulle beheer oor hulle vingers ontwikkel. Ontwikkeling begin ook van bo na onder. Kinders moet hulle kop eerste beheer, dan sal hulle beheer oor hulle bene en voete kry. Ontwikkeling is geleidelik en volg gewoonlik ‘n voorspelbare volgorde; ‘n kind sal eers leer om te sit voor hy sal loop, en ‘n kind sal leer om individuele woorde te sê voordat hy in sinne begin praat. Elke vaardigheid wat ‘n kind aanleer word as grondslag vir meer komplekse vaardighede gebruik.

Die meeste kinders ontwikkel vaardighede in soortgelyke patrone en op soortgelyke tye. Maar die bereiking van mylpale wissel gebaseer op elke kind se familie en persoonlike geskiedenis en omgewing. Sommige kinders ontwikkel vinnig en vroeg waar ander kinders van dieselfde ouderdom stadiger ontwikkel. Dit beteken hulle bereik ontwikkelings mylpale later as ander kinders of dalk glad nie.

Motoriese afwykings kan deur verskeie faktore veroorsaak word. Navorser, Ayres, het in 1980 gestel dat enige afwyking in die senuweestelsel kan aanleiding gee tot motoriese afwyking. Kapp het in 1990 gestel dat so kan wanfunksionering van die brein en verwante neurologiese strukture as gevolg van wanontwikkeling, skade of beserings van die oorsake wees, terwyl pedagogiese, psigologiese, maatskaplike en ander faktore ook bydraend tot die probleem kan wees.

Soms wonder mens hoekom is dit só belangrik en hoekom daar só baie klem op jou kind se ontwikkeling geplaas word. Maar dis nie oor dowe neute nie. Dit is uiters belangrik dat jou kind se ontwikkeling die korrekte orde volg. Motoriese Ontwikkeling verbind alle ontwikkelingsgebiede van kognitiewe ontwikkeling, self-help vaardighede, kommunikasie ontwikkeling, sosiale en emosionele ontwikkeling.

Vanaf geboorte tot ongeveer ses jaar oud is die mees kritieke stadium vir die stimulering van elk van die vaardighede wat bestaan uit fundamentele komponente. Wanneer die komponente sigbaar gemaak word, laat dit kinders toe om bewustheid van binne hulself, hulle ruimte en van die mense en voorwerpe wat hulle omring op te wek.

Grootmotoriese Ontwikkeling behels die ontwikkeling van die groot spiere in die kind se liggaam (hardloop, skop, sit, staan, ens.)

Fynmotoriese Ontwikkeling behels die klein spiere in die kind se liggaam van die hande, voete en gesig (eet, praat, skryf, knip, ens.)

MOTORIESE VAARDIGHEDE:

Liggaamsbewustheid -kennis van liggaamsdele

Balans – staties (sonder beweging) en dinamies (tydens beweging)

Koördinasie – samewerking van verskillende spiere (hand-oog-voet)

Ruimtelike Oriëntasie – kennis van liggaam en die ruimte om dit

Ritme en Tydsberekening – uitvoering van bewegings is gebaseer op ouditiewe inligting

Dominansie – linker of regter dominansie

Manipulasie – bewegings wat objekte insluit soos rakette, balle, ens.

Fundamentele Vaardighede – draf, hardloop, huppel, spring, hop, gallop, glypasse

Midlynkruising – om ledemate saam te kan gebruik; links/regs, bo/onder

Die oorsake van motoriese afwykings sluit die volgende faktore in:

·Genetika

·Omgewingsfaktore

·Prematuur geboorte

·Spanning

·Uitputting

·Slaaploosheid

In ernstige gevalle kan ‘n spesifieke diagnose gegee word soos:

·Serebraal gestremdheid

·Spierdistrofie

·Spina Bifida

·Hoë spiertonus (hipertonies)

·Lae spiertonus (hipotonies)

·Progressiewe metaboliese afwyking

Algemene eienskappe van kinders met Motoriese Afwykings:

*Vertraagde mylpaalontwikkeling

* Versteurde reflekse

* Gebrekkige koördinasie

* Gebrekkige ruimtelike oriëntasie

* Lateraliteitsversteuring

* Versteurde balans en ritme

* Tekorte met liggaamsbewustheid

* Apraksie en Disartrie (swak uitspraak

en artikulasie probleme)

As daar vertragings in groot- of fynmotoriese ontwikkeling vermoed word moet ‘n spesialis so gou as moontlik geraadpleeg word.

Geskryf deur: Almeréne Badenhorst

Kinderkinetika - Praktisyn

Moria skryf die hoogaangeskrewe IEB Senior Sertifikaat eksamen. Sedert die ontstaan van die skool in 1991 het die skool nog elke jaar, buiten een, gespog met 'n 100% slaagsyfer onder matrikulante.

Toppresteerders in vorige jare het 4, 5, 6 en 8 onderskeidings behaal

Nasionale Senior Sertifikaat inligting

Leerlinge moet ten minste 7 vakke neem, Wildplaasbestuur uitgesluit, waarvan nie meer as vier, tale mag wees nie. Universiteite het sekere vakke geïdentifiseer wat bydra tot die leerling se APS/ APT telling wat dan weer bepaal of die leerling toelating het vir ‘n spesifieke studierigting. Hierdie vakke staan as aangewese (designated subjects) bekend. Lys van aangewese vakke wat by ons aangebied word:

Rekeningkunde

Besigheidstudies

Aardrykskunde

Tale

Lewenswetenskap

Wiskunde

Wiskunde geletterdheid

Fisiese Wetenskap

Die volgende vakke is dus nie aangewese vakke nie en kan nie vir ‘n leerling universiteitsvrystelling gee deurdat dit bydra tot die APS telling nie.

Toerisme

Gasvryheidstudies

Rekenaartoepassingstegnologie

Lewensoriëntering (moet egter die vak deurkom vir verskeie studierigtings)

Inligting aangaande die slaagvereistes vir die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)

1. Bepaalde institusionele- of programvoorwaardes mag 'n spesifieke taalvereiste hê of vereistes van toepaslike kombinasies van goedgekeurde Nasionale Seniorsertifikaat-vakke en vlakke van prestasie. Leerders moet dus hulle uitslae vergelyk met die institusionele vereistes van die kursus wat hulle wil volg.

2.1 Om die NSS te slaag

'n Leerder moet die volgende vakke slaag:

 Een amptelike taal op Huistaal-vlak met 40%

 2 ander vakke met 40%

 3 vakke met 30%

2.2 Om die NSS te slaag met toelating tot Hoër Sertifikaat-studie

'n Leerder moet:

 Die NSS slaag (sien 2.1).

 Aan die taalvereiste vir verdere studie aan 'n Suid-Afrikaanse inrigting voldoen.

Taalvereiste vir toelating tot verdere studie

 Een van die twee amptelike tale wat deur die leerder aangebied word moet óf Engels óf Afrikaans wees. Om aan die taalvereiste te voldoen om te kwalifiseer vir toelating tot 'n tersiêre opvoedkundige instelling, moet 'n leerder óf Engels óf Afrikaans op Eerste Addisionele vlak slaag, m.a.w. met 30% of meer.

 'n Leerder wat 2 amptelike tale op Huistaal-vlak aanbied, waarvan een Engels of Afrikaans is en die ander taal een van die ander amptelike tale is, bv. Zulu, en tussen 30% en 39% in Engels of Afrikaans behaal, (m.a.w. dit nie slaag nie, maar 30% of hoër behaal) en die ander taal slaag, kwalifiseer vir toelating tot verdere studie aan 'n tersiêre inrigting.

2.3 Om die NSS te slaag met toelating tot Diploma-studie

'n Leerder moet:

 Een amptelike taal op Huistaal-vlak met 40% slaag

 3 ander vakke met 40% slaag (uitsluitend Lewensoriëntering)

 2 vakke met 30% slaag

 Aan die toelatingsvereiste vir taal vir verdere studie aan 'n Suid-Afrikaanse instelling voldoen. (Sien 2.2.1)

Die verskil tussen die toelating tot diploma-studie eerder as hoër sertifikaat-studie is dat die leerder 40% of meer in 4 vakke (insluitend die amptelike taal op Huistaal-vlak, maar uitsluitend Lewensoriëntering) eerder as net in 3 vakke moet behaal.

2.4 Om die NSS te slaag met toelating tot Graad-studies

'n Leerder moet:

 Een amptelike taal op Huistaal-vlak met 40% of meer slaag.

 4 vakke van die aangewese lys met 50% of meer slaag (Verwys na 2.4.1 hieronder vir die lys van aangewese vakke)

 2 vakke met 'n minimum van 30% slaag

 Aan die toelatingsvereiste vir taal vir verdere studie aan 'n Suid-Afrikaanse inrigting voldoen. (Sien 2.2.1)

2.4.1 Die lys van aangewese vakke is as volg:

Besigheidstudies; Dramatiese Kunste; Ekonomie; Fisiese Wetenskap; Geografie; Geskiedenis; Ingenieursgrafika en Ontwerp; Inligtingstegnologie; Landbouwetenskappe; Lewenswetenskappe; Musiek; Rekeningkunde; Religie-studies; Tale (een leer- en onderrigtaal aan 'n hoër opvoedkundige instelling en twee ander goedgekeurde taalvakke); Verbruikerstudies; Visuele Kunste; Wiskunde; Wiskundige Geletterdheid

2.4.2 Ten opsigte van Musiek is dit slegs die Nasionale Seniorsertifikaat Musiek-kursus wat as 'n aangewese vak gereken word. Ander musiekkursusse (bv. Unisa-Musiek) word as NSS-vakke erken, maar word nie as aangewese vakke aanvaar vir die doeleindes van kwalifisering vir graad-studies nie.

2.4.3 Nie-aangewese vakke mag bydra tot die Puntetelling vir Toelating en mag as 'n spesifieke toelatingsvereiste vir 'n instelling of fakulteit geld. Leerders moet dus hulle uitslae vergelyk met die institusionele vereistes van die kursus wat hulle wil volg.

2.4.4 Indien jy nie aan die minimum statutêre vereistes voldoen nie of een vereiste vir graadstudie kortkom, moet jy die Toelatingskantoor by die instelling waar jy graag wil studeer, kontak. Die Toelatingskantoor sal jou dan inlig oor moontlike opsies.

2.5 Kwalifikasies wat aan tersiêre instellings aangebied word

Tersiêre instellings sal voortgaan om tersiêre studierigtings (grade, diplomas en/of hoër sertifikate) soos altyd aan te bied. Universiteite bied gewoonlik graadkursusse aan, Universiteite van Tegnologie bied hoofsaaklik diplomas en sommige B Tech-grade en nasionale sertifikate aan. Sommige universiteite en Universiteite van Tegnologie bied al drie aan.

LW Besluite oor toelating tot 'n tersiêre instelling is die prerogatief van die instelling. Die feit dat die minimumvereistes behaal is, beteken nie noodwendig toelating tot die instelling nie.

LIEWE MATRIEKS 2016...

Besoek hierdie webblad gereeld vir die nuutste inligting aangaande portefeulje datums en spertye!!

Afrikaans

Die portefeulje bestaan uit die take wat hierbo in die tabel gelys is. Die GTA-opdrag is die jaar baie lywig en uitdagend, maar die onderwyser(es) begelei hul daardeur. Dit is die opdrag wat per e-pos aan die ouers gestuur is. Die leerlinge het die Afrikaanse weergawe ontvang. Die mondelinge en ander opdragte wat nie in die portefeulje kom nie, maar deur my gebruik word vir deurlopende punte, skakel so ver moontlik met die portefeulje-opdrag, ten einde as oefening vir leerlinge te dien en my raad en begeleiding te vermeerder.

Taak:

Datum:

Afgehandel:

Lang skryfstuk 1 (500-600 woorde)

Vr – 8 April

Lang skryfstuk 2 (500-600 woorde)

Vr – 10 Junie

4de Genre 1

Verlede jaar afgehandel

*

4de Genre 2

Verlede jaar afgehandel

*

Toets 1 – Taal

Wo & Do – 16 & 17 Maart

Toets 2 - Poësie en voorgeskrewe

Reeds afgehandel – Moontlik 2de toets op Di – 12 April

*

Toets 3 – Roman & drama

Vr – 17 Junie

Toets 4 – 4de genre

Verlede jaar afgehandel

*

Rekordeksamen – Vraestel 1

Soos op eksamenrooster

Rekordeksamen – Vraestel 2

Soos op eksamenrooster

GTA-opdrag:

Klasbespreking:

Individuele navorsing afsnydatum:

Beskrywende opstel onder toesig (GTA-opstel)

Toespraak lewering:

Vr – 21 Jun

Vr – 24 Jun

Di – 28 Jun

Vr – 1 Jul

Gasvryheidstudies

Portejeulje Projek

Loopbane in die Gasvryheidsbedryf / Bemarking / Entrepreneurskap / Tertdeeg

Datums vir Inhandiging: Eerste fase: 27/01/16 - 12/02/16

Tweede fase: 25/02/16 - 10/03/16

Derde fase: Finaal 17/03/16

Opdrag 2 - Wyn

Datum van Inhandiging - 21/06/16

Rekeningkunde:

Opdrag 1 - Gevallestudie

Tema: Ontleding en vertolking van die finansiële state van Shoprite of Pick& Pay

Datum vir inhandig: 29 Maart 2016

Opdrag 2 - Projek

Tema: Bateverkope

Fase 1: Ontwerp en handig vrae in vir onderhoude -

Fase 2: Voer 'n onderhoud met 'n motorhandelaar en handig 'n afskrif van jou notas in -

Fase 3: Handig getikte antwoorde van jou vrae vir fase 2 in -

Fase 4: Voer 'n onderhoud met 'n besigheid wat 'n Bateregister hou - April vakansie

Fase 5: Tik antwoorde vir fase 4 -

Fase 6: Handig finale verslag en opdrag in -24 Mei 2016


Wiskunde

Bestaan uit 2 kort projekte en 1 lang projek:

Kort Projek 1 - VISVANG

Word voltooi in 3 fases

  • Inhandigingsdatum 1ste fase: 22/02/2016
  • Inhandigingsdatum 2de fase: 07/03/2016
  • Inhandigingsdatum 3de fase: 11/04/2016

Lang Projek - navorsing oor EUKLIDIESE MEETKUNDE

  • Inhandigingsdatum: 04/07/2016

Kort Projek 2 - Teken vir my 'n PRENTJIE

  • Inhandigingsdatum 08/08/2016


Rekenaartoepassingstegnologie

Die 2016 graad 12-PAT handel oor die die beplanning van 'n matriekvakansie

Fase 1: Sleutelvraag, taakopdrag, formuleer 20 vrae, identifiseer tipe vrae en waar antwoorde gevind gaan word. Einde Februarie klaar.

Fase 2: Identifiseer 3 websites wat van toepassing is op elke vraag wat dmv die Internet beantwoord moet word.

Evalueer die websites volgens 5 W's en kies telkens die beste een.

"Copy" en "Paste" die relevante inligting uit elke website met die betrokke URL en stoor in dokument genaamd Internet Info.

Skep 'n Elektroniese Vraelys wat aan leerlinge uitgedeel en ge-epos kan word. Deel te minste 20 van hierdie vorms uit en samel weer in.

Stel onderhoudvrae saam, voer die onderhoud en noteer antwoorde

Handig fase 1 in: 30 Maart 2016

Handig Fase 2 in: 21 April 2016

Fase 3: Word, Excel, Access en finale verslag

Handig fase 3 in 20 Julie 2016


Fisiese Wetenskap

Alternatiewe taak -inhandiging 16 Februarie 2016

Chemie Prakties Junie 2016

Fisika Prakties Julie 2016


    Toerisme

    Die matrieks moet elk 5 take deur die loop van die jaar inhandig. 3 Portefeulje Take en 2 PAT-Take (Praktiese Asseseringstake)

    Die Portefeulje behels die volgende:

    - Navorsingstaak

    - Mondeling & Visuele Taak

    - Industriële Taak

    Die PAT behels die volgende:

    - FASE 1

    - FASE 2

    Navorsingstaak (Portefeulje)

    Hierdie taak bestaan uit ‘n 14-Dag Toerplan. Jy moet 1 Provinsie in SA besoek en 2 SADC Lande. Die taakopdrag en Rubrieke is reeds aan elke kind uitgedeel. Die rubriek wys presies wat die taak behels en waarvoor punte toegedien word. Maak goed gebruik van die rubrieke. Die hoofafdelings van die taak behels volgende:

    • 14-Dag Toerplan na 1 SA Provinsie en 2 SADC Lande

    • Begroting

    • Toeristeprofiele

    • Inligting oor Provinsie en Lande wat besoek word

    Hierdie taak is die grootste taak vir die jaar met ‘n totaal van 150 punte. Begin so gou moontlik met die taak.

    Finale Inhandigingsdatum: 2 April 2016

    Industriële Taak (Portefeulje)

    Om hierdie taak suksesvol te kan voltooi, is dit nodig dat jy 'n werk aanvaar by 'n toerisme verwante onderneming, hetsy in die akkommodasie-, vervoer-, aantreklikheid-, organisasie- of industriële en kommersiële sektor.

    Die lengte van jou dienstydperk moet een van die volgende wees:

  1. 3 Werksdae

Die opdrag, asook die merkrubrieke, is aan elke leerling versorg.

Finale Inhandigingsdatums: 24 Mei 2016


Aardrykskunde

Navorsingstaak inhandigingsdatum: 30/06/2016


Engels

    All portfoliowork will be done in class.

    18 April: Portfolio Test 1

    1 August: CAT tasks (written task + oral)

    17 March: Essay 1

    27 June: Portfolio Test 2'

    4-8 April: 3rd Genre (Test + Task + Discussion)

    6 June: Essay 2

    7-9 June: Prepared Orals

    Besigheidstudie

    Eerste termyn:

    Mondeling - Entrepreneurskap

    Tweede termyn:

    Gevallestudie - Ondernemingsprestasie

    Primere Navorsingstaak - Sake-omgewing van Onderneming in Namibie

    Wiskunde Geletterdheid

    Inflasietaak - inhandigingsdatum: 18 Augustus 2016

    Lewensweternskap

    Renostertaak - inhandiingsdatum: 9 September2016

    Lewensoriëntering

      Text Box: L.O. datums 20161.Toetse

      Een formele toets reeds afgehandel

      2.Portefeulje take

      Twee take is reeds in graad 11 afgehandel

      Praktiese taak is reeds ingegee

      Gemeenskapstaak

      – inhandigingsdatum – Donderdag 23 Junie

      Sertifikate – slegs ‘n seleksie van 5 spesifieke sertifikate wat die leerders reeds ontvang het

      – inhandigingsdatum – Maandag 4 Julie

      3.GTA Deel A

      Afdeling 1 – Verpligte vraag (onder toesig tydens klastyd gedoen)

      – datum – Donderdag 10 Maart

      Afdeling 2 – Visuele dagboek

      – inhandigingsdatum – Donderdag 14 April

      4.GTA Deel B (IEB eksterne eksamen)

      Hierdie vraestel word soos die eindeksamen, onder toesig, in die A.P. Kerk-saal geskryf op 8 Junie 2016 om 09:00.

      ALLE LEERDERS MOET TEENWOORDIG WEES!


Deurlopende formatiewe assessering  vind deur al drie die termyne plaas in alle vakke in die vorm van take, toetse en mondelinge. Aan die einde van elke termyn, kort voor die eksamen, ontvang die ouers 'n vorderingsverslag wat hierdie assessering weerspieël. Die summatiewe assessering aan die einde van die eerste termyn is in die vorm van 'n Mini-eksamen of geskeduleerde Toetsreeks, waarna leerlinge 'n rapport ontvang. Die Rapportpunt word saamgestel uit die deurlopende assesseringspunt sowel as die eksamenpunt. Aan die einde van die tweede en derde termyn skryf alle leerlinge van Gr 4-12 'n volledige eksamen.

Ons skryf ook in vir eksterne assessering in Wiskunde en Fisiese Wetenskap in Gr 11,  wat deur die IEB opgestel en gemerk word 

Gr 9 leerlinge kry die geleentheid om in te skryf vir evaluering deur 'n geregistreerde Psigometris waar hul aanleg, beroepsvoorkeur en persoonlikheidstipe bepaal word.

Eksamentye: 

 April: Mini-eksamen/toetsreeks

Augustus: Gr 4-12 Eksamen

September: Gr 12 rekordeksamen

November: Gr 4-11 Eindeksamen

Oktober - November: Gr 12 IEB Senior Sertifikaat Eksamen

Privaatskool Moria is by die Ministry of Basic Education geregistreer en van graad 1-7 word die Namibiese Sillabus gevolg. Van Graad 8-12 word die Sillabus van die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys gevolg om aan die vereistes daargestel deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) van Suid-Afrika te voldoen. Aan die einde van Gr 12 word die hoogaangeskrewe IEB eksamen afgelê. Die slaag van hierdie eksamen bied toegang tot alle universiteite en tersiëre instellings in Suid-Afrika en regoor die wêreld.

Van Graad 10 af is die vakkeuse soos volg:

Vepligte vakke:

Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Lewensoriëntering, Wiskunde of Wiskunde Geletterdheid.

Keuse vakke:

Die volgende vakke word as keuse vakke aangebied maar die vakke wat teenoor mekaar staan wissel van jaar tot jaar.

Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Besigheidstudies, Rekeningkunde, Rekenaartoepassingstegnologie, Gasvryheidstudies, Toerisme, Aardrykskunde, Duits (aangebied deur Duitssprekende persone vanaf Gr 4-9), Wildplaasbestuur ekstra vak.V

Vakke en betrokke personeellede:

    1. Wiskunde – C. Holtzhausen,
    2. Wiskunde Geletterdheid en Lewenswetenskappe – T. Stander
    3. Toerisme en Wildplaasbestuur – R. Robberts
    4. Aardrykskunde – F. Joubert
    5. Besigheidstudies  – L. Grobler
    6. Rekeningkunde -  C. Stander
    7. Gasvryheidstudies – E. Marais
    8. RTT (Rekenaartoepassingstegnologie) en  Fisiese Wetenskap -  I. Mouton

VAKBESKRYWINGS:

Wiskunde Geletterdheid

Inhoud

·       Getalle en Bewerkings in Konteks : Die toepassing van basiese wiskunde begrippe wat reeds in vroeër grade aangeleer is.

o    + ; - ; x ; ÷

o    Afronding

o    Verhoudings en koers

o    Begrotings

o    Kosprys, verkoopprys, wins

o    Rente en rentekoerse

o    Inflasie

o    lenings, annuïteite, belasting, huurkoop

 

·       Funksonele verwantskappe : Basiese algebra, werk met veranderlikes

o    Oplos van vergelykings

o    Grafieke teken en interpreteer

 

·           Meetkunde : Basiese meetkunde en die toepassing daarvan in die allerdaagse lewe

o    Afstande

o    Meeteenhede

o    Tyd

o    Pythagoras

o    Skale en kaarte

o    Aansigte

o    Omtrek, oppervlakte, volume, buite-opp

 

·       Data hantering

o    onderhoude en vraelyste

o    data sorteer en opteken

o    grafieke

o    analiseer

o    waarskynlikheid

Minimum vereistes

Leerders is verplig om of Wiskunde of Wiskunde Geletterdheid te neem.  Daarom sal al die leerders wat nie aan die Wiskunde vereistes voldoen, of die mas kan opkom met die Wiskunde nie, Wiskunde Geletterdheid neem. 

Dit is baie belangrik om te besef dat Wiskunde Geletterdheid nie soos die vroeër Wiskunde Standaardgraad is nie.  Wiskunde en Wiskunde Geletterdheid is twee totaal verskillende vakke. Wiskunde Geletterdheid leer vir die kind die basiese Wiskundige begrippe en hoe om dit in die lewe daar buite te gebruik. Wiskunde Geletterdheid is egter op so'n vlak dat die kind wat nie Wiskundig aangelê is nie dit wel kan bemeester.

Moontlike studierigtings

·           LLB

·           Arbeidsterapie

·           Onderwys

·           Enige BA rigting

·           Enkele  B.Sc (Biologiese rigtings)  en enkele B.Com rigtings

Maak baie seker by die universiteit of ander instansie waar u kind na skool verder wil studeer of hul met Wiskunde Geletterdheid die spesifieke rigting kan volg.

Wat die leerder kan verwag

Wiskunde Geletterdheid is wel ‘n wiskundige vak,  maar dit is glad nie moeilik nie.  Leerders kan regtig baie goed presteer in Wiskunde Geletterdheid as hulle hard werk.

 

Wiskunde

Inhoud

Wiskunde bestaan uit 4 leeruitkomstes:

LU1 en LU2 bestaan uit Algebra en Calculus

LU3 en LU4 uit Analitiese Meetkunde en Trigonometrie

Minimum vereistes

Die basiese aanbeveling is dat ‘n leerder ten minste 60% vir Wiskunde in Gr. 9 moet hê om Wiskunde te neem.  Leerders wat swakker punte kry in Gr. 9 kan wel Wiskunde neem maar moet weet dat hulle sal sukkel en dit waarskynlik nie sal volhou tot in Matriek nie.  Leerders wat Fisiese Wetenskap wil neem moet probeer om so lank moontlik vas te byt met Wiskunde, Fisiese Wetenskap is baie moeilik sonder Wiskunde.

Wiskunde Geletterdheid is ook ‘n vrystellingsvak daarom glo ek nie daaraan dat ‘n kind moet vasklou aan Wiskunde oor studievereistes nie, as ‘n kind met die Wiskunde sukkel op skool is dit ‘n aanduiding dat dit dalk die verkeerde studierigting is, dit raak nie makliker op Universiteit of Kollege nie.  Ek ervaar dat die gesukkel later al die ander vakke beïnvloed. 

Die oorgang van Wiskunde na Wiskunde Geletterdheid is egter nie so moeilik nie, daarom glo ek nie dis ‘n fout as leerders maar so lank as moontlik probeer vasbyt met die Wiskunde nie.  Die afsnypunt is egter einde Gr. 11, in Gr. 12 moet hulle die regte vak hê aangesien hulle dan ook begin met portefeulje projekte en belangrike werk kan mis! 

Moontlike studierigtings

·           Medies

·           Veearts

·           LLB

·           Arbeidsterapie

·           Onderwys

·           Enige B.Sc en B.Com rigting ens. 

Wat die leerder kan verwag

Wiskunde is regtig baie moeiliker as Wiskunde Geletterdheid, dis werklik net ‘n handjievol kinders wat met IEB Wiskunde kan aanhou tot in Matriek.  Ek weet egter dat dit hulle baie help op Universiteit en dat die standaard voldoende is, die terugvoering van studente wat IEB Wiskunde gehad het is baie positief!

 

Aardrykskunde

Teorie

Klimatologie, geomorfologie, Nedersettings, Mense en hul behoeftes.

(Alles is gebasseer op Suid-Afrika en die wêreld)

 

Kaartwerk

Meer prakties : Vrae beantwoord en berekeninge d.m.v die bestudering van topografiese kaarte en ortofoto’s. (Alle kaarte is van Suid-Afrika)

 

Studierigtings

·           Onderwys

·           Geologie

·           Toergids

·           Klimatologie

·           Weervoorspeller

 

Wat die leerder kan verwag

Aardrykskunde is ‘n vak wat hoë kognitiewe denkvlakke vereis.  Aardykskunde is baie toepassing en interpretasie van sketse, foto’s, kaarte en leesstukke.  Dit  is baie werk en die leerder moet hard leer om die toepassing en interpretasie te kan doen.

 

Toerisme

Aangesien die toerisme-bedryf jaarliks groei, is dit ‘n baie goeie rigting om in te gaan – daar sal altyd werk vir iemand in die toerismebedryf wees.

 

Vakinhoud - daar is 4 afdelings wat ons in toerisme leer:

1.     Toerisme as ‘n verweefde stelsel: hier raak die leerlinge vertroud met die begrip en kennis van die uitwerking van die onderlinge afhanklikheid van die onderskei sektore, subsektore en rolspelers in die toerismebedryf.

2.     Volhoubare toerisme: dit is daar om die kennis, vaardighede en waardes van leerders ten opsigte van die omgewing waarin hulle leef, te verbreed, beide sosiaal en ekologies, en die bestaande infrastruktuur om die toerisme-potensiaal in hulle gemeenskappe te ontgin.

3.     Toerisme geografie, Aantreklikhede en Reisneigings: dit stel leerders in staat om die geografiese inligting van ‘n verskeidenehid bronne te ontleed en krities te evalueer om die ligging van bestemmings te bepaal, die redes waarom toeriste spesifieke bestemmings kies, vas te stel en advies aan toeriste te gee om hulle te help om in hul behoeftes te voorsien. Hier leer hulle van al die toeriste aantreklikhede van al die SADC-Lande en elke provinsie van die RSA.

4.     Kliëntesorg en kommunikasie: dit is om leerders in staat te stel om kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede te verstaan en toe te pas om uitnemende dienslewering te fasiliteer.

Portefeulje:

Dit is ‘n belangrike deel aangesien dit die praktiese komponent van die vak is. Toerisme se portefeulje word elke jaar ingestuur Johannesburg (IEB) toe vir moderering.  Dit bestaan uit die volgende komponente:

 

1.     PAT – opdrag wat in 3 Fases gedoen moet word

2.     Visuele Taak – Powerpoint-aanbieding

3.     Navorsingstaak – 14-dag toerplan van 3 SADC-lande

4.     Industriële taak – dit behels dat hulle vir ‘n week by ‘n toeristeplek moet werk.

5.     Mondeling – praat oor hulle ondervinding tydens hulle Industriële taak.

 

Beroepe:

Toergidse, veldgidse, reisagente, hotelbestuurders, bestuurders op gasteplase, veldwagters op jagplase, en nog vele meer – legio-beroepe.

Verwante leerareas:

Rekenaartoepassingstegnologie,  Aardrykskunde,  Besigheidstudies, Gasvryheidstudies

 

 Besigheidstudies

Vakinhoud:

Spanwerk. Korporatiewe Sosiale verantwoordelikheid.  Entrepreneurskap.

Menslike hulpbronne. Arbeidswetgewing. Bestuur en leierskap.

 

Die vak is nie ’n voorvereiste vir B.Com grade nie

 

Moontlike studierigtings:

B.Com studierigtings

Entrepreneurskap

Klein sake ondernemings

Eie besighede

besigheidsbestuur

 

Wat die leerling kan verwag:

Teorie word voortdurend gekoppel aan praktyk. Vereis selfstudie en geintegreerde denke.

Die leerling moet op hoogte wees met wat in die wêreld aangaan. Lees van koerante en kyk van nuus is baie belangrik.

 

Rekeningkunde

Vakinhoud:

Finansiële state (Maatskappye, eenmansaak, vennootskap). Ontleding van state. BTW. Kontantbegroting. Bankversoening. Kontantvloeistate.

 

Rekeningkunde is nie voorvereiste vir verdere B.Com studies nie maar dit is ’n sterk aanbeveling.

 

Minimum vereistes

Rekeningkunde Graad 9    60% 

 

Moontlike studierigtings:

B.Com studie rigtings

Rekenmeester, Boekhouer, Ouditeut, Kosterekenmeester, Finansiële adviseur ens.

 

Wat die leerling kan verwag:

Rekeningkunde is ’n verstaanvak wat hoë orde denke vereis sowel as die vermoë om noukeurig en presies te werk. Baie huiswerk moet gedoen word vir inoefening.

 

Lewenswetenskappe (Biologie)

Vakinhoud:

Plantkunde, Mensfisiologie, Ekologie, Bevolkingsdinamika, Biologiese diversiteit

 

Minimumvereistes vir Lewenswetenskappe:

Minimum van 50% vir Wetenskap Gr 9

Graad 10 werk is noodsaaklik vir Graad 12 dus kan leerlinge nie in Gr 11 eers met die vak begin nie.

Lewenswetenskappe is 'n vereiste vak vir mediese studierigtings.

 

Moontlike studierigtings:

Mediese beroepe - Fisiologie, Arbeidsterapie, para-medies, aptekerswese, veeartseny

Onderwys

B.Sc. met die oog op navorsing

 

Wat die leerling kan verwag:

Nuwe uitkomsgebaseerde onderrig fokus baie sterk op die impak van wetenskap op die omgewing. Teorie word voortdurend gekoppel aan praktyk. Doel is verstaan jou liggaam en die wêreld om jou. Vereis baie selfstudie, navorsing en geintegreerde denke. Baie leerwerk en vereis die vermoë om verskillende afdelings te integreer etiese kwessies te beredeneer.

 

Gasvryheidstudie

Vakinhoud:

Die vak bestaan uit ‘n teorie en praktiese komponent. Die Teorie tel 50% en Prakties(klas) en Restaurant-aande saam 50%. Die prakties behels Voedsel-en Drankbereiding, aanbieding en bediening. Leerders word toegerus met basiese vaardighede om die arbeidsmark te betree. Restaurantaande word na ure aangebied, 4ure voedselvoorbereiding en dan bediening van voedsel daarna.

 

Die persoon wat belangstel om ‘n loopbaan in die bedryf te volg moet oor die volgende eienskappe beskik:

Goeie menseverhoudinge

Goeie organisatoriese vaardighede

Kreatiwiteit

Insig om teoretiese kennis te bemeester

Verwante leerareas

Rekenaartoepassingstegnologie

Toerisme

Lewenswetenskappe

Rekeningkunde

Bedryfstudies

Werksmoontlikhede varieer vanaf  voedselvoorbereiding, kitskosondernemings, die ondernemende entrepreneur tot ‘n loopbaan in hotelbestuur, restaurantbedryf

 

Fisiese Wetenskappe (Skeinat)

Vakinhoud:

Fisika

Kragte, beweging, energie, golwe, elektromeganika

Chemie

Atoommodel, chemiese verandering. chemiese stelsels

Minimum vereistes vir Fisiese Wetenskappe:

Wisk Gr 9 60%, Skeinat Gr 9 60%, Gr 10 Wiskunde nie Wiskunde Geletterdheid nie.

Fisiese Wetenskappe Gr 12 is 'n vereiste vir studie in B.Sc. Ingenieurswese, Aptekerswese, Medies.

 

Moontlike studierigtings:

Mediese beroepe - Fisiologie, Arbeidsterapie, para-medies, aptekerswese

BSc met die oog op navorsing

Ingenieurswese

Anallitiese laboratorium werk

Argitektuur

Onderwys

 

Wat die leerling kan verwag:

Fisiese Wetenskap is ’n verstaanvak wat hoë orde denke vereis sowel as die vermoë om hard te werk.

 

Rekenaartoepassingstegnologie (RTT)

Teorie:

Ken en verstaan waaruit ’n rekenaar bestaan en hoe dit werk.

Kennis van apparatuur,  programmatuur, netwerke en die Internet

Impak van die inligting en kommunikasie tegnologie op die omgewing.

Prakties:

Die gebruik van die Office pakket in die uitvoer van verskeie opdragte in Word, Access, Powerpoint, Excel.

 

Studierigtings:

Rekenaargeletterdheid is’n vereiste vir alle studierigtings op universiteit en ’n noodsaaklike vaardigheid vir enige beroep. Dit is egter nie ’n universiteitskeuringsvak (aangewese vak) nie en kan nie deel uitmaak van die 4 vakke bo 50% vir universiteitsvrystelling nie.

Spesifieke rigtings is programmering

Rekenaar tegnikus

Stelsel/netwerk bestuur

 

Wat die leerling kan verwag:

RTT is ’n praktiese vak wat toewyding en selfdissipline vra omdat sukses afhang van die konsensieuse uitvoer van oefeninge op die rekenaar. Dit is baie werk en nie ‘n “loaf” vakkie nie maar die leerling wat hard werk kan baie goeie punte behaal omdat 70% van die vak praktiese vaardighede is wat aangeleer en ingeoefen word.

 

Wildplaasbestuur

Vakinhoud

Teorie:

Identifisering van grasse en wildspore, ekosisteme, veldbestuur (brande, erosie, probleemplante) wildtelligs en wildvangs, jagwapens, kennis van trofeë, vleisbewerking, kenmerke van diere, aanhou en vervoer van diere.

Prakties:

Elke graad bring ’n praktiese besoek aan ’n wildplaas.

 

Studierigtings:

Studeer in wildplaasbestuur of gaan werk op ’n wildplaas.

Wildplaasbestuur word geneem as ’n ekstra vak (8ste vak). Dit is nie ’n IEB vak nie en word intern geëvalueer.

 

 Uiteensetting van Keusevakke en Vakgroepe

Graad 9

Ekonomiese Bestuurswetenskappe verdeel in Gr 9 in Besigheidstudies en Rekeningkunde waarvan alle leerlinge ten minste een moet neem. Albei vakke kan ook geneem word. Duits word as keusevak aangebied en staan teenoor Rekeningkunde of teenoor Besigheidstudies afhangende van die betrokke jaargroep se behoeftes. Gasvryheidstudies word as 'n ekstra keusevak aangebied

 

Graad 10-12

Elke kind is uniek en ‘n individu wat geskape is met spesifieke talente en belangstellings. Daarom moet kinders vakke kies wat by hulle belangstellings pas. Daar is nie regte vakke en verkeerde vakke nie, daar is net regte en verkeerde keuses op grond van jou belangstellings, talente en die beroep wat jy wil beoefen.

Vakkeuses is dus belangrik en nie iets waaroor  ligtelik besluit moet word nie.

Dis belangrik om nie deur verkeerde vakkeuse deure toe te maak nie – doen nou al navorsing oor  vereistes vir moontlike studierigtings by Universiteite en Technikons.

As ouer voel mens altyd die kind moet vakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskap neem maar 40% vir bv. Fisiese Wetenskap gaan jou nie help vir toelating nie, dan is 50% of 60% vir ‘n ander vak meer tot jou voordeel.

‘n Leerling wat ‘n vak neem waarvoor hy nie opgewasse is nie word op drie terreine benadeel:

1.            Hy moet meer tyd aan die vak spandeer en skeep sodoende ander vakke af waarin hy andersins goed sou kon presteer.

2.            Dit plaas ‘n kind se selfvertroue onder groot druk om met werk te worstel wat bo sy/haar vuurmaakplek is.

3.            Indien die leerling later besluit om van vak te verander is hy reeds agter in die nuwe vak wat hy in die plek van die ou een wil neem

Vakgroepe :

Keuse vakke is in vier of vyf groepe ingedeel. Elke leerling moet  ten minste vier vakke, een per groep, uit groepe A-D/E kies. Die groepe is so ingedeel dat leerlinge ‘n studierigtingkeuse kan uitoefen bv :

 

Wetenskaplik :

A - Fisiese wetenskap, B – Lewenswetenskap, C – RTT, D - Aardrykskunde,  (Kies ten minste 3 uit voorafgaande 4 vakke),  E -  Wiskunde,  Wildplaasbestuur (ekstra vak in na-middae – nie vir matrikulasie doeleindes nie).

 

Besigheid :

B – RTT, C – Besigheidstudies, D – Rekeningkunde, E – Wiskunde / Wiskunde Geletterdheid, Wildplaasbestuur(ekstra vak in na-middae– nie vir matrikulasie doeleindes nie).

 

Prakties (Nie vir Universiteitsvrystelling nie):

A – Toerisme, B – RTT, C – Besigheidstudies, D –Gasvryheidstudies, (Kies ten minste 3 uit voorafgaande 4 vakke),  E -  Wiskunde Geletterdheid,  Wildplaasbestuur(ekstra vak in na-middae– nie vir matrikulasie doeleindes nie).

 

 

Privaatskool Moria beskik oor 'n ten volle toegeruste Rekenaarsentrum met 24 uur Internettoegang. Benewens die vak Rekenaartoepassingstegnologie wat in skooltyd vir Gr 9 - 12 angebied word, word alle leerlinge vanaf Gr 5 in rekenaargebruik onderrig. Die rekenaarsentrum is ook 2 namiddae per week oop as mediasentrum om navorsing te doen vir take in alle vakke.

Ons glo baie sterk aan die totale opvoeding van die kind, daarom bied ons ook die volgende:

Kunsklasse Gr 4-8

Liggaamsopvoeding Gr 1-7

Basiese tegnieke (Handwerk vir die meisies en Tegnies vir die seuns) Gr 4-7

Rekenaargeletterdheidsklasse Gr 5-7

Wildplaasbestuur Gr 10-12

Leerlinge word aangemoedig om aan soveel moontlike eksterne eksamens en kompetisies deel te neem om sodoende hul denkvaardighede te ontwkkel en slyp.

Voorbeelde hiervan is die Wiskunde - , Afrikaanse-, en Wetenskap-olimpiades en skryfkompetisies soos die POORT kompetisie en Die Griffel.

In 2013 neem twee Gasvryheidstudie leerlinge deel aan die sjefkompetisie wat deur die Namibiese Sjefsvereniging in Windhoek aangebied is. Daar was 18 groepe wat deelgeneem het en Moria se twee leerlinge is aangewys as algehele wenners in die skole-afdeling. In 2014 neem sewe Moria-leerlinge weereens deel aan hierdie Sjefkompetisie. 'n Matriekleerling verwerf die eerste plek individueel en by die groepe loop Moria se leerlinge met die eerste en derde plekke weg!

In 2009 het Moria leerlinge die eerste drie plekke in Namibië in die Afrikaanse Olimpiade (Huistaal) verwerf. In 2010 verwerf 'n Moria leerling die 2 de plek in Namibië en in 2011 asook 2013 is dit weer 'n Moria leerling wat 1ste plek in Namibië behaal.

Die afgelope ses jaar reeds tel Moria leerlinge onder diegene wat uitgenooi word na die Griffel prysuitdeling in Windhoek. In 2011 wen 'n leerling 'n Skryfkursus in Bloemfontein met sy Poort-inskrywing.

Vir drie opeenvolgende jare van 2009-2011 en weer in 2013 was daar 7 Moria leerlinge wat deel gevorm het van die 100 leerlinge wat uit meer as 20 000 inskrywings gekies word om die Wetenskapweek in Pretoria by te woon op grond van hul prestasies in die Nasionale Wetenskap-Olimpiade. Drie van hierdie leerlinge is as SADC wenners bekroon en twee leerlinge was ook algehele wenners. In 2014 en 2015 is daar elke keer 2 leerlinge van Moria gekies om die Wetenskapweek by te woon en ons het weereens albei jare die SADC wenner opgelewer.

Moria leerlinge neem ook gereeld deel aan die Idiome stryd op Kanaal 7 waar ons in 2008 as Nasionale naaswenners uit die stryd getree het.

Die jaarlikse Brugbou-kompetisie sorg ook vir baie pret waar ons leerlinge in Windhoek gaan deelneem.

Facebook Bladsy

Opkomende gebeure

Nuutse Omsendbrief