PRIVAATSKOOL MORIA

BAKGAT - Vrugtekoeke

Moria-ouers swaai houtlepels vir die 22ste keer!
Geskryf deur -- Rene de Jager, gebore Coocke (Moria se Moeder Koek - Red.)

Watter 1996 Moria-ouer sou ooit kon droom dat hulle vrugtekoek-plan vir 22 jaar lank ‘n trotse tradisie sou bly? Niemand sou waarskynlik kon voorsien dat hierdie winsgewende fondsinsamelingsprojek na 22 jaar geseënd sou wees met sy eie bakkery nie!

As oudste Afrikaanse Privaatskool in Namibië is Privaatskool Moria reeds vanaf 1991 ʼn baanbreker in Christelik Afrikaanse kinderopvoeding. Ouers van Moria moes baie kreatief dink oor fondsinsameling om alle ‘Privaatskool’-planne te laat realiseer. Gelukkig het Moria ‘n hele paar bobaas baksters as ouers gehad en hulle het bietjie gespeel met resepte en toe opgekom met die BESTE VRUGTEKOEKRESEP OOIT! Met hierdie GEHEIME RESEP en ‘n span bereidwillige ouers, onderwysers en kinders, het die Moria vrugtekoekprojek in 1996 ontstaan.

Die 22 jaar Moria-vrugtekoekpad, was ‘n moeilike, maar geseënde een. In 1996 het die dinamiese vrugtekoekspan weggespring en 600 vrugtekoeke gebak en gebid dat hulle verkoopprys van N$45-00 per koek nie te duur sal wees nie. 22 Jaar later het baie dinge dieselfde gebly. Ons bak wel nou 2500 vrugtekoeke, maar ons bid steeds dat ons verkoopprys van N$170-00 per koek nie te duur sal wees nie!

In 1996 het ʼn span ouers, onderwysers en kinders lang ure gestaan by die Matthys Greef Ouetehuis om die koeke in gewone oonde te bak. Later jare het oorlede Mnr. Hartmud Basson van Outjo Bäckerei aangebied dat die bakproses in sy oonde plaasvind. Na 22 jaar het Privaatskool Moria sy eie bakkery, naamlik “Die Bakgat”. Hierdie bakkery is toegerus met 'n vyf vlak industriële bakoond, 'n industriële menger, rakke, trollies, 'n lugversorger en nog vele meer. Ons is werklik dankbaar dat ons so kon groei.

Wat het in 22 jaar verander?

In 1996 is daar vir die projek 8 bokse brandewyn aangekoop. In 2017 is 36 bokse brandewyn aangekoop. In 1996 is daar bruinpapier aangekoop om binne in die panne te gebruik. Die rol was 760 mm lank en die koste het N$ 126 beloop. 22 Jaar later gebruik ons 2 rolle van 910 mm lank en dit kos N$ 815 per rol. In 1996 is 15 kg botter gebruik, terwyl ons hierdie jaar reeds 300 kg gebruik het.

Hoe het die gewildheid van ons gebak gegroei?

In 1996 is daar 600 koeke gebak, in 2003 - 1050 koeke. In 2005 het die Moria ouers 1200 koeke gebak in 4 weke. In 2006 het 1360 koeke in 10 dae uit die oonde gekom. In 2010 - 1560 koeke in 10 dae. In 2014 meer as 2000. In 2015 meer as 2500. In 2016 het Bakgat se produkte uitgebrei na vrugtekoeke en 4 heerlike "Crunchie" geure. In 2017 beplan Bakgat om ook skuimpies en dadel-truffels te bak, maar 2940 items het reeds die bakgat-oonde en Privaatskool Moria se gronde verlaat.

Moria doen ʼn beroep op alle oud Moria-ouers en onderwysers wat al ooit betrokke was by die projek om vir ons ‘n houtlepel aan te stuur, met jou naam op, sodat ons julle kan bedank deur julle houtlepels teen “Die Bakgat” se mure te plak.

Groot dank aan ons Hemelse Vader vir ons skool en 'n groot dankie aan elke lid van die Moria familie wat oor 22 jaar gehelp het om ons droom van Christelike Afrikaanse onderwys te laat realiseer met die uitmuntende projek.

Moria, julle is Bakgat!